In die middeleeue: GOSSE
Die Gouws familie het sy oorsprong in Frankryk.
Die vroegste bekende vorm van die naam is Gosse: dit beteken
"boklam" in Frans. Die vroegste name was gebaseer op voorkoms,
beroep of verwantskap: De Lange, Bakker, Jansen (Jan's Zoon) is
voorbeelde. In Middeleeuse Frankryk was bokke die stapelbron van vleis,
melk en kaas – die Gosse-familie het waarskynlik groot bokkuddes
besit.
|

|
Die familie het 'n wapenskild gehad, wat daarop dui dat
hulle nie kleinboere was nie, maar substansiële grondbesitters. 'n
Familiewapen is toegesê aan ridders sodat hulle skild en banier
herkenbaar kon wees as saamtrekpunt vir hulle manne in 'n geveg. Die Gosse-wapen
toon die kop van 'n Moor op 'n silwer agtergrond, omring deur drie rooi
sterre.
Die Moor se kop is die kenmerk dat die familiehoof 'n
Kruisvaarder was; dit word bevestig deur die rooi sterre: die rooi kleur
(heraldieke term "gules") dui 'n kryger aan en die sterre
beteken geestelike krag.
|
n die vroeë tye was die Gosse-familie talryk en hulle was
stoere Katolieke. Teen die 16de eeu het hulle egter by die Reformasie
betrokke geraak en die Protestantse geloof begin aanhang.
In 1583 word die geboorte vermeld van Jean Gose, die seun van
twintigjarige Asa Gose wat op die ouderdom van agt jaar in die huwelik
bevestig was met die dogter van 'n ander vooraanstaande familie – sulke
gerieflikheidshuwelike was nie ongewoon onder groot grondbesitters nie, en
die kinders het by hulle eie ouers gebly tot hulle oud genoeg was om die
huwelik te voltrek.
Huguenote: GAUCH
Tussen 1583 en 1712 is daar nie melding van Gosse of Gose in die Franse
rekords nie: die familie het blykbaar uitgewyk om die steeds toenemende
vervolging van Protestante te vermy. Hulle het in drie hoofgroepe gevlug:
na Duitsland, waar die spelling "Gause" geword het; na
Switserland: "Gauch" en na Skotland, waar die naam na
"Goss" verander het. 'n Groot deel van die Skotse groep het
verder gegaan na die Britse kolonies in Amerika, omdat Skotland ook
Katoliek was.
André Gauch van Languedoc, Frankryk:
|

|
Reproduksie van sy handtekening op 'n dokument
gedateer 1691.
Dit kom uit "The French Refugees at the Cape" deur Colin
Botha
|
Sy familie het waarskynlik na Switserland gevlug, want hy het in 1683
getrou met Jacqueline Decré, en 'n jaar later is hulle oudste
kind, Estienne, in Geneve gebore. Hulle het ook 'n
dogtertjie, Marie, gehad. Sy is in Amsterdam gedoop, maar is
jonk dood. Andrè en sy gesin het dus van Switserland via Holland
na die Kaap gekom.
Aan die Kaap: Gous / GOUWS
Die Huguenoteskip "Spierdijk" het in 1691 in Tafelbaai
aangekom. Die passasierslys toon aan:
- Andrè Gauch, grofsmid
- sy vrou Jacqueline Decré
- hulle seun Estienne (7)
Jacqueline word nie weer vermeld nie – moontlik is sy op die reis
oorlede, want by sy aankoms word Andrè aangeteken as wewenaar met
een seun. Hy was in elk geval 'n wewenaar toe hy in Augustus van dieselfde
jaar getroud is met Jeanne le
Clerq (Johanna de Klerk), dogter van Pierre le Clerq en Sara
Cochet.
Andrè Gauch en Johanna
de Klerk het vier kinders gehad:
- Pieter, Sara, Jeanne en Andries.
Die twee seuns, die eerste geslag aan die Kaap gebore, se name is
reeds verHollands, en die van word ook in die Drakensteinse
dooprekords as Gouws, of soms Gous, gespel.
- Pieter is in 1693 gebore en is in 1721 getroud met Johanna
Oosthuizen. Hulle het vyf kinders gehad. Sy was die dogter van
Johannes Oosthuizen van Weert, Holland, en sy vrou Johanna van
Grijpsklerk.
- Sara is in 1695 gebore en trou later met Christiaan
Gorbrecht.
- Jeanne se geboortedatum is onbekend maar sy is in 1695 saam
met haar suster Sara gedoop.
Dit was nie moontlik vir mense van die distrik om gereeld die
lang reis aan te pak na waar 'n predikant beskikbaar was nie, en
twee of meer kinders van dieselfde gesin is soms saam gedoop; party
van die dopelinge was al kleuters.
- Andries, gebore 1698, is in 1719 getroud met Johanna
Conterman en hulle het sewe kinders gehad. Sy was die dogter van Jan
Jacob Conterman, van Hesse-Nassau in Duitsland, en sy vrou Anna Cleef.
Skoonpa Conterman was opvlieënd en is in 1707 aangekla van
aanranding: hy het 'n skaapwagter, Hartwig Alsleben, met die vuis
bygekom omdat dié nie die respek getoon het om sy hoed af te haal
toe Oubaas Conterman verbystap nie.
Op 26 Februarie 1698, toe die jongste kind, Andries, skaars 'n maand
oud was, word Andrè Gouws vermoor terwyl hy sy vee gaan inspekteer
het.
Jeanne le Clerq (Johanna de
Klerk)
Jeanne le Clerq
het op 12 Mei 1688 aan boord die Oosterland in Tafelbaai aangekom,
saam met haar weduwee-moeder Sara Cochet, en haar broers Joost en
Abraham. Hulle was van Straatskerk in Walcheren.
Sara het in die jaar van hulle aankoms getrou met Guillaume du
Toit, wat saam met sy broer Francois in 1686 aan boord die Vrijheit
aan die Kaap geland het. Hulle was Huguenote afkomstig van Lille.
Johanna het drie
jaar in haar ma en stiefvader se huis gewoon voor sy in 1691 met Andrè
Gouws getroud is. Dit moes 'n taamlik avontuurlike tydjie in haar jong
lewe gewees het en baie anders as die stedelike Europese omgewing waaraan
sy gewoond was: die Du Toit broers het geboer oorkant die Bergrivier waar
baie San- en Koikoikrale was.
Die Sanmense het Du Toit vreeslik gepla en bitterheid veroorsaak
deur voortdurend sy vee te steel. Dikwels het hy en sy bure die rowers
agternagesit. Die manne was gewoonlik in twee klompe verdeel en het
dan die klowe ingesteek. Wie eerste by die groot bos kom, moes 'n
trompet blaas. Die plek het later bekend geword as Trompettersbos.
Omdat die Du Toits die eerste was wat Du Toitskloof deurgegaan het,
het dit later dié naam gekry.
Soos sy broer het Guillaume 'n belangrike rol in die gemeenskap
gespeel.
Hy was 'n sterk opponent van die korrupte goewerneur W. A. van der
Stel. Hy en Francois het 'n lewendige rol gespeel in die opstootjie
wat daar geskied het tussen die Goewerneur en die Koloniste oor die
klagbrief van Adam Tas. Die broers is 'n boete opgelê en vir 5 jaar
na Mauritius verban, maar hulle het saam met sewe ander burgers na die
Vier-en-twintig Riviere gevlug.
Sara (Cochet) du Toit het sekerlik die ondersteuning van haar
dogter gemis toe sy in 1691 uit die huis is om met Andrè Gouws te
trou. Die huwelik was van korte duur: vier kinders en sewe jaar later was Johanna
'n weduwee.….
…. maar nie vir baie lank nie, want binne weke trou sy met Pieter
Bekker, gebore 1673, van Köningsberg. Hulle eerste kind, Gideon, is
ook nog in dieselfde jaar,1698, gebore. Johanna
en Pieter Bekker het altesaam sewe kinders gehad.
Daar was 'n suspisie dat Bekker vir Gouws vermoor het. Daar mag
waarheid in steek, want die twee is so gou na André Gouws se dood
getroud dat daar wel 'n vorige verhouding kon gewees het.
Dis nie verbasend dat Bekker verdink was nie, want hy was blykbaar
'n gewelddadige man. In 1701 word hy verban na Mauritius omdat hy Jan
Stevensz Botma aangerand het. Voordat hy weggestuur kon word, vlug hy
die binneland in. Hy moes redelik naby aan sy huis geskuil het want sy
vrou het gereeld kinders van hom.
Uiteindelik, in 1710, vang hulle hom vir die wrede behandeling van
sy slavin, Maria van Ceylon. Nadat Bekker vir Maria geweldig geslaan
het, het hy haar met "pickle" gesmeer en haar toe bo die
vuurkaggel gehang. Sy was baie sleg verbrand.
Hierdie keer word hy verban vir 4 jaar en na Europa gestuur, maar
hy sluit aan as 'n soldaat in die VOC en was weer terug in die Kaap in
1717. Binne 'n jaar was hy egter in hegtenis geneem en na Robbeneiland
gestuur.
Johanna het die
plaas "Straatskerk over Roodezand" gekry.